Litigasie deur of teen gades getroud binne gemeenskap van goedere.

Litigasie deur of teen gades.—(1) ’n Gade wat in gemeenskap van goed getroud is, mag nie sonder die skriftelike toestemming van die ander gade geregtelike verrigtinge teen ’n ander persoon instel nie of geregtelike verrigtinge deur ’n ander persoon ingestel, bestry nie, behalwe geregtelike verrigtinge— (a) Ten aansien van sy afsonderlike goed; (b) Vir die verhaal van vergoeding, uitgesonderd vergoeding vir vermoënskade, weens die pleeg van ’n delik teen hom; (c) Ten aansien van ’n aangeleentheid wat betrekking het op sy beroep, bedryf of besigheid. (2) ’n Party by geregtelike verrigtinge deur ’n gade ingestel of bestry, kan nie op grond van die gebrek aan toestemming vereis ingevolge subartikel (1) die geldigheid van die verrigtinge betwis nie. (3) Indien koste teen ’n gade toegeken word in geregtelike verrigtinge wat hy sonder die toestemming vereis ingevolge subartikel (1) ingestel of bestry het, kan die hof, met inagneming van die ander gade se belang in die gemeenskaplike boedel en die rede vir die gebrek aan toestemming, gelas dat die koste van die afsonderlike goed van eersbedoelde gade, as daar is, verhaal word en, vir sover daardie koste nie aldus verhaal kan word nie, dat dit van die gemeenskaplike boedel verhaal word, in welke geval die hof kan gelas dat daar by die verdeling van die gemeenskaplike boedel verrekening ten gunste van die ander gade moet geskied. (4) (a) ’n Aansoek om oorgawe van ’n gemeenskaplike boedel moet deur albei gades gedoen word. (b) ’n Aansoek om die sekwestrasie van ’n gemeenskaplike boedel moet teen albei gades gedoen word: Met dien verstande dat geen aansoek om die sekwestrasie van ’n skuldenaar se boedel van die hand gewys word op grond daarvan dat sodanige skuldenaar se boedel ’n gemeenskaplike boedel is nie indien die applikant die hof oortuig dat ondanks redelike stappe deur hom gedoen, hy nie kon vasstel nie of die skuldenaar in gemeenskap van goed getroud is of wat die naam en adres van die skuldenaar se gade is. (5) Waar ’n skuld van ’n gemeenskaplike boedel verhaalbaar is, kan die gade wat die skuld aangegaan het of albei gades gesamentlik daarvoor aangespreek word, en waar ’n skuld vir benodigdhede vir die gesamentlike huishouding aangegaan is, kan die gades gesamentlik of afsonderlik daarvoor aangespreek word.