HUWELIK BUITE GEMEENSKAP VAN GOEDERE MET DIE AANWASBEDELING

Ook in hierdie geval word, deur middel van ‘n voorhuwelikse Notariële huweliksvoorwaardeskontrak die gemeenskap van goedere en van wins en verlies uitgesluit. Elke party is dus weereens verantwoordelik vir sy of haar eie skulde en die eienaar van sy of haar eie bates.

Hierdie bedeling maak egter daarvoor voorsiening dat bates wat tydens die duur van die huwelik bymekaar gemaak word, ongeag
op wie se naam dit geplaas word, in gelyke dele deur die partye gedeel sal word by ontbinding van die huwelik.

Hierdie bedeling is ‘n populêre keuse vir paartjies wat vir die eerste maal trou en nog nie groot en waardevolle boedels bymekaar gemaak
het nie. Aanwas beteken in wese dat behalwe vir sekere bates wat deur die partye tydens die aangaan van die aanwas uitgesluit word,
alle ander boedelbates en die groei daarvan, deel vorm van die aanwasboedel wat in gelyke dele tussen die partye verdeel sal word ingeval van dood of egskeiding. Dit is veral 'n goeie keuse waar een van die partye sy of haar eie besigheid bedryf. Die opsie gee die voordele van 'n verdeling van bates met die verdere voordeel van batebeskerming teen krediteure.

In leketaal beteken dit dus dat die partye nie aanspreeklik is vir mekaar se
skulde nie maar dat hulle weld deel in wat hulle bymekaargemaak het gedurende die bestaan van die huwelik. Die deling geskied net by die ontbinding van die huwelik wat plaasvind by die dood van een van die partye of egskeiding. Hierdie huweliksbedeling laat baie buigbare en kreatiewe boedel beplanning toe.

Die “aanwas” is die mate wat partye se onderskeie boedels gegroei het by die ontbinding van die huwelik, in ander woorde, die bedrag wat die netto waarde van ‘n gade gegroei het oor oor die periode van die huwelik. Die aanwas van die partye word van mekaar afgetrek en die gade wat die minste aanwas getoon het, het ‘n eis van 50% in die verskil tussen die partye se aanwas. Die Aanvangswaarde van die betrokke partye word opgegee by die sluiting van die huweliksvoorwaardekontrak en reflekteer die party se netto batewaarde op
daardie stadium. Indien u onseker is hoe dit bereken word kan u die vorm in die aflaai seksie gebruik gebruik om u netto batewaarde te bepaal.