Aanwasbedeling soos uiteengesit in die wet op Huweliksgoedere.

. Aanwasbedeling.— (1) By die ontbinding van ’n huwelik onderworpe aan die aanwasbedeling deur egskeiding of deur die dood van een van of albei die gades, verkry die gade wie se boedel geen aanwas toon nie of ’n kleiner aanwas toon as die boedel van die ander gade, of sy boedel indien hy oorlede is, ’n vordering teen die ander gade of sy boedel vir ’n bedrag gelyk aan die helfte van die verskil tussen die aanwas van die gades se onderskeie boedels. (2) Behoudens die bepalings van artikel 8(1) ontstaan ’n vordering ingevolge subartikel (1) by die ontbinding van die huwelik, en is die reg van ’n gade om ingevolge hierdie Wet in die aanwas van die ander gade se boedel te deel nie gedurende die bestaan van die huwelik sedeerbaar of vir beslaglegging vatbaar nie, en maak dit nie deel van die insolvente boedel van ’n gade uit nie. 4. Aanwas van boedel.—(1) (a) Die aanwas van ’n gade se boedel is die bedrag waarmee die netto waarde van sy boedel by die ontbinding van sy huwelik die netto waarde van sy boedel by die aanvang van daardie huwelik oorskry. (b) By die bepaling van die aanwas van ’n gade se boedel— (i) Word enige bedrag wat by wyse van vergoeding, uitgesonderd vergoeding vir vermoënskade, by die boedel aangewas het buite rekening gelaat; (ii) Word ’n bate wat ingevolge die huweliksvoorwaardes van die gades van die aanwasbedeling uitgesluit is, asook enige ander bate wat hy uit hoofde van sy besit of vroeëre besit van eersgenoemde bate verkry het, nie as deel van dié boedel by die aanvang of die ontbinding van sy huwelik in aanmerking geneem nie; (iii) Word die netto waarde van dié boedel by die aanvang van sy huwelik bereken met inagneming van enige verskil wat daar in die waarde van geld mag bestaan by die aanvang en die ontbinding van sy huwelik, en vir dié doel geld die beswaarde gemiddelde van die verbruikersprysindeks soos van tyd tot tyd in die Staatskoerant afgekondig, as prima facie-bewys van enige verandering in die waarde van geld. (2) Die aanwas van ’n oorlede gade se boedel word bepaal voordat daar aan ’n testamentêre beskikking, ’n skenking mortis causa of erfopvolging ingevolge die intestate erfreg uit daardie boedel gevolg gegee word. 5. Erflatings, legate en skenkings uitgesluit van aanwas.—(1) ’n Erflating, legaat of skenking wat ’n gade gedurende die bestaan van sy huwelik toeval, asook enige ander bate wat hy uit hoofde van sy besit of vroeëre besit van daardie erflating, legaat of skenking verkry het, maak nie deel van die aanwas van sy boedel uit nie, behalwe vir sover die gades in hulle huweliksvoorwaardes anders ooreenkom of vir sover die erflater of skenker anders bepaal. (2) By die bepaling van die aanwas van ’n gade se boedel word ’n skenking tussen gades, uitgesonderd ’n skenking mortis causa, nòg as deel van die skenker se boedel nòg as deel van die begiftigde se boedel in aanmerking geneem. 6. Bewys van aanvangswaarde van boedel.—(1) Waar ’n party by ’n voorgenome huwelik nie vir die doel van bewys van die netto waarde van sy boedel by die aanvang van sy huwelik daardie waarde in die betrokke huweliksvoorwaardes verklaar nie, kan hy vir dié doel daardie waarde voor die sluiting van die huwelik of binne ses maande daarna in ’n opgawe verklaar, wat deur die ander party onderteken moet word, en die opgawe deur ’n notaris laat attesteer en saam met die afskrif van die huweliksvoorwaardes van die partye in die protokol van die notaris voor wie die huweliksvoorwaardes verly is, laat bewaar. (2) ’n Notaris wat so ’n opgawe attesteer, moet aan die partye ’n gesertifiseerde afskrif daarvan verstrek waarop hy moet sertifiseer dat die oorspronklike saam met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar word of, indien hy nie die notaris is voor wie die huweliksvoorwaardes verly is nie, moet hy die oorspronklike opgawe per aan-getekende pos aan die notaris stuur wat die huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar, of aan die bewaarder van sy protokol, na gelang van die geval, en laasgenoemde notaris of daardie bewaarder moet die oorspronklike opgawe in sy protokol bewaar tesame met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes. (3) Huweliksvoorwaardes bedoel in subartikel (1) of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan, of ’n opgawe wat ingevolge subartikel (1) onderteken en geattesteer is of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan beoog in subartikel (2) , geld as prima facie-bewys van die netto waarde van die boedel van die betrokke gade by die aanvang van sy huwelik. (4) Die netto waarde van ’n gade se boedel by die aanvang van sy huwelik word geag nul te wees indien— (a) Daardie gade se laste sy bates by die aanvang oorskry; (b) Daardie waarde nie in sy huweliksvoorwaardes of in ’n opgawe ingevolge subartikel (1) verklaar is nie en die teendeel nie bewys word nie. 7. Verpligting om besonderhede van waarde van boedel te verstrek.—Wanneer dit nodig is om die aanwas van ’n gade of ’n oorlede gade se boedel te bepaal, moet daardie gade of die eksekuteur van die oorlede gade se boedel, na gelang van die geval, binne ’n redelike tyd op aanvraag deur die ander gade of die eksekuteur van die boedel van die ander gade, na gelang van die geval, volledige besonderhede van die waarde van daardie boedel verstrek. 8. Bevoegdheid van hof om verdeling van aanwas te gelas.—(1) ’n Hof kan op aansoek van ’n gade wie se huwelik aan die aanwasbedeling onderworpe is en wat die hof oortuig dat sy reg om by die ontbinding van die huwelik in die aanwas van die ander gade se boedel te deel deur die optrede of voorgenome optrede van die ander gade ernstig benadeel word of waarskynlik ernstig benadeel sal word, en dat ander persone nie daardeur benadeel sal word nie, die onmiddellike verdeling van die betrokke aanwas ooreenkomstig die bepalings van hierdie Hoofstuk of op die ander grondslag wat die hof billik ag, gelas. (2) ’n Hof wat ’n lasgewing kragtens subartikel (1) uitreik, kan beveel dat die aanwasbedeling wat op die huwelik van toepassing is, vervang word deur ’n huweliksgoedere-bedeling ingevolge waarvan aanwasdeling asook gemeenskap van goed en gemeenskap van wins en verlies uitgesluit word. (3) Wanneer ’n bevel kragtens subartikel (2) gegee word, moet die griffier ’n afskrif daarvan aan die betrokke registrateur van aktes stuur, wat ’n paslike verwysing na die nuwe huweliksgoederebedeling op die registrasieduplikaat van die betrokke huweliksvoorwaardes en op elke afskrif daarvan wat aan hom vir endossering aangebied word, moet laat aanbring. (4) ’n Registrateur van aktes wat ingevolge subartikel (3) kennis van ’n nuwe huweliksgoederebedeling kry, moet alle ander registrateurs van aktes dienooreenkomstig in kennis stel en elk van hulle van ’n afskrif van die hofbevel voorsien, en elke registrateur van aktes wat aldus in kennis gestel word, moet ’n paslike verwysing na die nuwe huweliks-goederebedeling op die afskrif, as daar is, van die betrokke huweliksvoorwaardes wat in sy kantoor geliasseer is en op elke afskrif daarvan wat aan hom vir endossering aangebied word, laat aanbring. 9. Verbeuring van reg op aanwasdeling.—Die reg om ingevolge hierdie Hoofstuk in die aanwas van ’n gade se boedel te deel, is ’n vermoënsregtelike voordeel wat, by egskeiding, in die geheel of gedeeltelik verbeurd verklaar kan word. 10. Uitstel van voldoening aan aanwasvordering.—’n Hof kan op aansoek van iemand teen wie ’n aanwasvordering afdwingbaar is, gelas dat voldoening aan die vordering uitgestel word op die voorwaardes, met inbegrip van voorwaardes betreffende die stel van sekerheid, die betaling van rente, die betaling van paaiemente, en die lewering of oordrag van bepaalde bates, wat die hof billik ag.