Hoe word aanvangswaarde bereken?

 Bewys van aanvangswaarde van boedel.—(1) Waar ’n party by ’n voorgenome huwelik nie vir die doel van bewys van die netto waarde van sy boedel by die aanvang van sy huwelik daardie waarde in die betrokke huweliksvoorwaardes verklaar nie, kan hy vir dié doel daardie waarde voor die sluiting van die huwelik of binne ses maande daarna in ’n opgawe verklaar, wat deur die ander party onderteken moet word, en die opgawe deur ’n notaris laat attesteer en saam met die afskrif van die huweliksvoorwaardes van die partye in die protokol van die notaris voor wie die huweliksvoorwaardes verly is, laat bewaar. (2) ’n Notaris wat so ’n opgawe attesteer, moet aan die partye ’n gesertifiseerde afskrif daarvan verstrek waarop hy moet sertifiseer dat die oorspronklike saam met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar word of, indien hy nie die notaris is voor wie die huweliksvoorwaardes verly is nie, moet hy die oorspronklike opgawe per aan-getekende pos aan die notaris stuur wat die huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar, of aan die bewaarder van sy protokol, na gelang van die geval, en laasgenoemde notaris of daardie bewaarder moet die oorspronklike opgawe in sy protokol bewaar tesame met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes. (3) Huweliksvoorwaardes bedoel in subartikel (1) of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan, of ’n opgawe wat ingevolge subartikel (1) onderteken en geattesteer is of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan beoog in subartikel (2) , geld as prima facie-bewys van die netto waarde van die boedel van die betrokke gade by die aanvang van sy huwelik. (4) Die netto waarde van ’n gade se boedel by die aanvang van sy huwelik word geag nul te wees indien— (a) daardie gade se laste sy bates by die aanvang oorskry; (b) daardie waarde nie in sy huweliksvoorwaardes of in ’n opgawe ingevolge subartikel (1) verklaar is nie en die teendeel nie bewys word nie. 7. Verpligting om besonderhede van waarde van boedel te verstrek.—Wanneer dit nodig is om die aanwas van ’n gade of ’n oorlede gade se boedel te bepaal, moet daardie gade of die eksekuteur van die oorlede gade se boedel, na gelang van die geval, binne ’n redelike tyd op aanvraag deur die ander gade of die eksekuteur van die boedel van die ander gade, na gelang van die geval, volledige besonderhede van die waarde van daardie boedel verstrek.